August 30, 2016

Wie is ons?

gloedland finaal!

Inleiding en agtergrond

Die Gloedland Groep van besighede bestaan uit ‘n aantal onafhanklike besighede wat elkeen op sekere gekose marksegmente toegespits is. Gloedland self reeds ‘n aantal besigheidsmodelle ontwikkel wat suksesvol in bedryf gestel is.

Gloedland se onderliggende filosofie is om in samewerking met strategiese vennote verskillende besighede te ontwikkel en ook om korporatiewe ondersteuning te bied aan entrepreneurs asook klein- en middelslag ondernemings in Suid-Afrika.

Gloedland kombineer regskundigheid, besigheidskundigheid, gemaklike toegang tot dienste wat noodsaaklik is vir besigheidsontwikkeling asook ‘n unieke skakelingsvermoë met beleggers, nyweraars en entrepreneurs in die buiteland en stel hieruit unieke en opwindende pakkette saam wat ons aanpas na gelang van elke kliënt se unieke behoeftes. Aangesien die direkteure van Gloedland in beide Suid-Afrika asook Europa gesetel en werksaam is, verstaan ons en funksioneer ons daagliks in beide wêrelde en kan ons sodoende die brug bied vir kliënte se skakeling met Europa.

Professionele diens en fokus op gehalte is ons deurlopende uitgangspunt.

Gloedland behartig tans verskeie projekte in verskillende sakesektore waarin ons kliënte help om hulle interne besigheidstrukture en prosesse doeltreffend te rig en bewerkstellig ook namens sommige van die kliënte effektiewe eksterne skakeling met strategiese vennote, beleggers, kliënte en verskaffers.

 

Oorsig oor Gloedland

Die bestuur van Gloedland word behartig deur direkteure wat gesetel is in Suid-Afrika en Europa.

Die direkteure van Gloedland:

  • Rian Genis:

Rian praktiseer as advokaat wat spesialiseer in kontraktereg en skuldinvorderings, maar spits hom die afgelope 3 jaar toe op die ontwikkeling van die Gloedland Groep van besighede. Rian het die grade B.Iuris en LLB by die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy was voorheen werksaam as staatsaanklaer in Namibië en mettertyd ook in Standard Bank (hoogste posvlak was nasionale bestuurder vir regsaangeleenthede en boedels en waarnemende hoof van die invorderingsafdeling, kleinhandelskrediet) asook in Brano Industries (hoogste posvlak as besturende direkteur). Sedert 2007 bedryf Rian sy eie konsultasiebesigheid. Rian is ‘n stigterslid van die Gloedland Groep van besighede.

  • Eugene Janse van Rensburg:

Eugene praktiseer as advokaat en spesialiseer in litigasie, kontraktereg en kommersiële reg. Eugene het die grade B.Iuris en LLB deur die Justisiekollege verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Hy was voorheen werksaam as staatsaanklaer en landdros in verskillende dorpe en stede in Suid-Afrika. Eugene is ook ‘n stigterslid van die Gloedland Groep van besighede.

  • Gino Bentivoglio:

Gino is ‘n sakeman en is die Hoof Uitvoerende Beampte van Zentrum für Energie- und Umweltstudien GmbH, ‘n maatskappy in Bozen (Italië), wat hoofsaaklik besigheid doen in die verkoop van chemiese produkte, die bou en bestuur van aanlegte vir die opwekking van hernieubare energie en ook konsultasiewerk verrig ten aansien van omgewingsdienste. Hy het chemie aan die universiteit van Innsbruck bestudeer, waar hy ook ‘n doktorsgraad in chemie verwerf het. Gino is die Europese direkteur van Gloedland en kan bo en behalwe Duits en Italiaans ook Afrikaans verstaan, vlot praat en baie goed skryf.

 

Die direksie van Gloedland skakel en vergader gereeld met mekaar en funksioneer baie effektief.