Besigheidstruktuur
Gloedland Beleggings (Edms) Bpk vorm deel van die groter Gloedland Groep van besighede. In hierdie groep bestaan daar reeds ‘n aantal besighede wat hulle in verskillende stadiums van ontwikkeling bevind. Die konsultasie en ontwikkelingsarm vir verskeie van die besighede in die Gloedland Groep is tans nog Antares.SA Consulting, wat verskeie funksies namens die groep verrig.
Gloedland Beleggings (Edms) Bpk het egter reeds in eie reg wasdom bereik en is totaal van Antares.SA Consulting BK gespeen deurdat die maatskappy gedurende 2014 geregistreer is en met besigheid begin het.
Die oorkoepelende strategie is dat die Gloedland Groep uiteindelik ‘n netwerk van onafhanklike maar wedersyds ondersteunende en komplimenterende besighede sal vorm.
Ek gaan vir doeleindes van eenvoud in hierdie dokument verder na Gloedland Beleggings (Edms) Bpk slegs as Gloedland verwys.
Besigheidsmodel
Gloedland doen besigheid deurdat ons eiendomme in Suid-Afrika aankoop, opknap waar nodig en herverkoop teen ‘n wins.
Ons fokus daarop om eiendomme in die mark te soek wat aangekoop kan word onder markwaarde en waarop daar, alle kostes van aankoop en herverkoop ingesluit, voldoende oorblywende winsmarges beskikbaar is om die transaksies vir ons die moeite werd te maak.
Ten opsigte hiervan ondersoek en handel ons tipies met eiendomme wat op veilings verkoop word of op dringende verkopings beskikbaar gestel word of uit insolvente en bestorwe boedels verkoop word.
Besigheidsaktiwiteite
Gloedland het in Oktober 2014 amptelik begin besigheid doen toe beleggings vanuit Europa ontvang is. Die beleggings is deur die Reserwebank ondersoek en is die betrokke leningskontrakte deur die Reserwebank goedgekeur.
Oor die afgelope 24 maande het Gloedland ‘n aantal eiendomstransaksies suksesvol hanteer.
Gloedland Beleggings se totale huidige bates beslaan kontant wat beskikbaar is vir beleggingstransaksies asook onroerende eiendomme wat oor die tydperk aangekoop is.
Gloedland se bruto batewaarde het gedurende die eerste 24 maande van sy bestaan met 63.5% gegroei. Ons is van mening dat ons struktuur en prosesse van so ‘n aard is dat ons op hierdie suksesse kan voortbou en daarop kan verbeter.

